Saterdagaand
Saterdagaand. Jy doen besigheid online. Musiek vul ons voëltjiehok. Ek is net. Doen wasgoed. Pak hier en daar ‘n kas of ‘n laai reg. Verstommend wat ons alles hier indra, wegpak, verloor, vergeet, onthou, soek en vind of nie vind nie. Genugtig, lanklaas dat musiek ‘n Saterdagaand ons woning gevul het.
Ons is onlekker met mekaar. Praat nie met woorde nie. Die musiek praat. Die atmosfeer praat. Die afstand tussen ons skreeu.
Vroeër had ek lus vir wyn. Impulsief. Onbevange. Net lus vir diep rooiwyn. Ek’t onthou van sommer ‘n botteltjie met net genoeg vir twee glase. Kan nie onthou wanneer laas die lus my gepak het nie - te lank was die herinneringe onderin ‘n diep rooi te rou.
Persoonlike nota: Gee instruksie vir reël van ekstra gewig vir bagasie wanneer ek suid reis - vir “notas”. Soontoe sal die notas in papierformaat wees - terugkom in ten minste 6 KWV Cabernet Sauvignon en dalk net 6 Roodeberg of ‘n aangename Pinotage.
Jy kies, soos alles wat jy doen, met ‘n kennershand die musiek wat ons hoor. Ja, Liever, ek het opgelet.
‘n Song van “ek is kwaad vir jou” gevolg deur ‘n song van “ek het jou lief” al om die beurt, mooi opgesom in hierdie woorde:
A hesitant prize fighter
Still trapped within my youth
At times I’d like to break you
And drive you to your knees
At times I’d like to break through
And hold you endlessly
Verlustig my nog so in die rooietjie (natuurlik gegeur met die good old snot en trane) toe jy my onderstebo vee met Vicky Leandros se Theo Wir Fahr’n nach Lodz. Toe ek kyk en ek kyk weer, toe is daardie pragtige Crystal D’Arque rooiwynglas in my een hand en my lyf en voete kry ‘n lewe van hul eie! Kan ENIGIEMAND stilsit met daai musiek??? Gewoon onmoontlik. Ek dans.
Die pressure cooker het stoom afgeblaas. Die begeerte om in jou oë te kyk is versigtig terug. Om te dink dat ‘n ander vrou in ons huis vrede kan bring.

Ek dans verby 16 jaar terug se hemeldeurweekte hel - God, sy was mooi met die stem van ‘n lui engel, sagte sybokkie hare… Wat sê my beter helfde altyd van die duiwel? Iets soos die duiwel skop nie jou deur af nie - die duiwel se klop aan jou voordeur is soos die helderste klokkespel - jy kan nie anders nie as om jou huis se voordeur, agterdeur, vensters, man, jou hele huis en sommer die bure s’n ook, oop te gooi in uitnodiging. Hmmm… Ja, ek dans.
Ek dans verby die jong liefdes wat universiteitsjare kenmerk. Die outjie met die roesbruin hare wie ek eenkeer lekker kon soen - net om te ontdek die rede vir my om ‘n man met genot in ‘n nuwe lengte in te soen, is drogbeelde van die sybokkie-hare-duiwel. Hmmm…ek sluk die dieprooie met genot. Hmmm…ek dans, ja.
Ek en Theo en die dieprooie dans verby die ryk reus, in ‘n werk in ‘n small sleeping town in. Ek drink op al die mense se siele wie ek daar geraak het en wie myne geraak het. Ek drink op my verkenning en verdwaal in Pretoria. Nog ‘n bietjie good old snot en trane. Hmmm…ek dans steeds.
Ek dans verby die vorige B in my lewe. God, ek is jammer - onvoorwaardelik. Vir die res van my lewe sal ek jammer wees oor haar. Ek sluk die dieprooie en ek en Theo en Vicky stamp ‘n voet of twee vir Theo en klap hande saam met Vicky.
Ek dans myself in die onthou van ‘n huis, ‘n tuin, ‘n hond en ‘n vrou wie se naam klink soos ‘n bed. Oor haar is ek ook jammer. Jammer dat ek haar nie slegter behandel het en haar ten minste eenkeer met ‘n baseball bat in ‘n ander timezone ingedonner het nie. Hierdie dans word vir ‘n oomblik amper ‘n oorlogsdans. Maar verloorders van ‘n oorlog dans seker nie?
Theo het seker by die Lodz aangekom, want my glas is leeg en die musiek het verander.
Ek moet Nelspruit toe hierdie week. Wens jy kon saam. Daar is ‘n rede voor. Ek onthou nou ses jaar terug. Daardie naweek en die tydskrif. Maar ek sal jou nog eendag gaan wys waar ek die eerste clue na jou gevind het. Nogal by grotte.
Liever, wat ek jou nie Saterdagaand gesê het nie. Vicky het ook gesing:
Ich hab die Liebe geseh’n
beim ersten Blick in deine Augen
Ek weet ek sê dit nie genoeg nie. Ek weet ek wys dit nie genoeg vir die buitewêreld nie. Maar…fok die buitewêreld. Ek gee nie om wat mense dink nie - daar is in elk geval te veel wie glo hulle kan dink.
Liever, daardie woorde van Vicky: met die eerste kyk in jou oë jare gelede by daardie garage, twee rooi motors langs mekaar - jou hoedjie op jou kop - ek het my hele lewe in jou oë gesien - jy bly my laaste liefde, Liever.
Ja, ons huil baie die laaste tyd. Maar dis om die oë skoon te kry om beter te kan sien, my kind. (Pasop vir die honger wolf!) Die liefde het baie lesse om te leer. Ons vorder. Te veel mense skryf in vir die kursus; te min gee aandag aan hul studies; te min besef die eerste jaar se studie in jou hoofvak is relatief maklik en gewoonlik besonder aangenaam, want dit is nuut.
Maar die hoofvak moet noodwendig moeiliker en ingewikkelder raak met tyd. ‘n Goeie student pluk ten minste eenkeer - hoe kan jy weet wat sukses is as jy nie failure ken nie? Hoe kan jy die soek van sukses waardeer as jy nie ten minste eenkeer jou gat gesien het nie, hmm? Maar ons wil dit maklik hë in hierdie lewe, né.
Ja, te veel mense skryf in vir die kursus Verhouding. Te veel fokus op die hoofvak in die eerste jaar - Verliefdheid. Te min besef die ware uitdaging lê in volgehoue studie van die gevorderde hoofvakke: Liefde en Verhouding. By die eerste teenspoed skop hulle die kursus op.
Of cheat op die vraestel. Soms word ’n klastoets die herlewing van die eksamen waar jy jou gat gesien het, die vak wat jy sleep nadat jy so fokken seker van jouself was dat jy ‘n onderskeiding sou behaal. Met tye na die failure word elke woord in die handboek ‘n belangrike detail uit vrees dat jy weer ‘n vak pluk. Of dra jy onthou met jou saam - onthou van die failure van ‘n vorige kursus.
Liever, ek kan nou weer rooiwyn drink. Want Vicky Leandros het onderin die glas gesing en ek het gevind:
There were time in the days gone by
When I thought I was living,
having fun with all the friends I knew
Now it seems all so long ago
For my life changed completely
from the moment I met youCome what may, I will love you forever
And forever my heart belongs to you
Come what may, for as long as I’m living
I’ll be living only for you
Rewind die tyd en ek sal jou weer volg op ‘n onbekende pad weg van almal en als wat ek ken.
April 21, 2008 at 3:41 pm
Jinne, ek het nou lekker gelees!!
April 21, 2008 at 3:50 pm
Weet jy dis is so mooi, maar ook so persoonlik. Ek gaan net niks verder sê nie. Lekker week..
April 21, 2008 at 6:21 pm
Sterkte. Jy dink nie dit het dalk met die volmaan te doen nie? Daai Lyfie van my was lekker hakkerig hierdie naweek . . .
April 21, 2008 at 8:53 pm
…en ek het Sondagoggend vir Helge omtrent my HELE Vicky Leandros collection gespeel… virre man wat U2, CCR, Ted Nugent en ander rockers aanhang, het hy dit mooi gehandle
- ek ken nog elke liewe woord van elke liewe song waarmee ek grootgeword het. en in my hoer(ag waar’smy laptoppie se kolletjie-e???) skooljare ook geluidkeels: “Das halt keiner aus…Ich will hier rrrrrraus…”
Ek lees julle alliepad so bittergraag!! Thanks!
April 23, 2008 at 8:24 am
Die hangkas is mos maar persoonlik, soos elke ou s’n is. Ons kies om met tye ‘n flitslig na binne te skyn.
As mens nooit kop stamp nie gaan jy nooit jou gade beter leer ken of verstaan nie. Volmaan is oor die algemeen heel spesiaal in ons huis, maar soms neuk dit anderkant toe ook.
Vicky is onbekend aan my, maar sy mag maar. Ek is redelik oop vir musiek.